Labradors en mense deel dieselfde vetsug-geneMarch 10, 2025
‘n Onlangse studie toon dat gene ‘n groot rol speel in hoekom mense en honde oorgewig word. Labradors, bekend vir hul gulsigheid, was die fokus van die navorsing. By mense bepaal gene 40%-70% van die risiko vir vetsug, en honde toon soortgelyke patrone. Omdat labradors dikwels as gids-honde gebruik word, is hulle selektief geteel vir eienskappe soos motivering deur kos, wat dalk hul gene vir gulsigheid kon versterk het.
Deur DNS uit speeksel-monsters van troeteldier-eienaars te ontleed, is gevind dat labradors en mense sekere vetsug-gene deel. Vyf van die belangrikste gene wat by labradors met gewigstoename verbind word, is ook betrokke by menslike vetsug. Dit is nie verbasend nie, aangesien beide spesies ontwikkel het om voedsel-oorvloed en -tekorte te hanteer. Die brein beheer honger en versadiging om energie-behoeftes te reguleer, en vetvoorraad is noodsaaklik vir oorlewing tydens tye van skaarsheid.
Hondeteling vergemaklik die identifisering van spesifieke gene wat oorgewig beïnvloed. Dit is veral belangrik vir veeartse, want vetsug is ‘n ernstige gesondheidsprobleem vir baie honde. Die belangrikste vetsug-geen wat in labradors geïdentifiseer is, was DENND1B. Honde met hierdie geen het gemiddeld 8% meer liggaamsvet gehad, terwyl die effek by mense minder duidelik was.
Leptien, ‘n hormoon wat uit vetweefsel vrygestel word, speel ‘n sleutelrol in eetlusbeheer deur melanokortienreseptore in die brein te aktiveer. Die studie het gewys dat DENND1B met hierdie reseptore saamwerk en hul seine beïnvloed, wat daarop dui dat dit ‘n belangrike rol in gewigsregulering speel.
Verder is genetiese risiko vir vetsug in honde gemeet en gevind dat hoërisiko-honde geneig was om meer gulsig te wees en voortdurend vir kos te soek. Lae-risiko honde het maklik hul gewig gehandhaaf, selfs sonder streng dieetbeheer deur eienaars. Hoërisiko-honde kon skraal bly, maar dit verg baie meer moeite en selfbeheersing van eienaars.
Hierdie bevindings geld ook vir mense. Mense met ‘n hoër genetiese risiko ervaar groter eetlus en vind dit moeiliker om ooreet te weerstaan. Dit beteken egter nie dat mense met ‘n gesonde gewig sterker wilskrag het nie – hulle het eenvoudig minder genetiese neiging tot vetsug.
Moet daar dan probeer word om van hierdie gene ontslae te raak? Beslis nie. Interessant genoeg het gidshonde in die studie ‘n hoër genetiese risiko vir vetsug gehad as troeteldier-labradors. Dit dui daarop dat hul gulsigheid hulle eintlik meer opleibaar en geskik vir hul werk maak.

Foto verskaf