Bokke draf vanmiddag uit teen Roemenië
Die Wêreldbeker-koors loop weer hoog onder die Springbok-aanhangers met hulle helde wat vanmiddag om drie-uur Roemenië in Bordeaux pak. Hoewel Roemenië na verwagting nie veel van ‘n uitdaging sal inhou nie, sal Suid-Afrika sy staal moet wys ná ‘n week van skokke oor die kniebesering van die haker Malcolm Marx en ‘n skouer wat lol by Eben Etsebeth. Die Bokke het ‘n oorwinning van 18-3 teen Skotland agter die rug terwyl Roemenië ‘n loesing van 82-8 deur Ierland in Bordeaux toegedien is. In vandag se ander wedstryde kom Fidji net voor ses teen Australië te staan, terwyl Engeland en Japan mekaar om nege-uur die stryd aansê.