WWI-oorlogskip naby Engelse kus gevind

Duikers aan die Korniese kus in die suidweste van Engeland het afgekom op die laaste rusplek van ‘n Amerikaanse oorlogskip uit die Eerste Wêreldoorlog. Die USS Jacob Jones was die eerste moderne oorlogskip ooit wat deur die vyand gesink is toe ‘n Duitse duikboot dit in 1917 met ‘n torpedo aangeval het. ‘n Offisier, Stanton F. Kalk, is ná sy dood vereer omdat hy tussen reddingsvlotte rond geswem het om sy manne aan boord te help. Die duikboot se bevelvoerder het ook die skip se posisie per radio aan die Amerikaners bekend gemaak sodat hulle die oorlewendes kon red.