Wetsontwerp stel minimum 5% plaaslike besit in mynwese voor

Die kwessie van plaaslike aandeelhouding in mynlisensies en die ontginning van natuurlike hulpbronne, bly in die nuus. Die Swapo LP Tobie Aupindi sê hy is teen die uitreiking van minerale hulpbron-regte aan buitelanders, mits hulle nie plaaslike aandeelhouding het nie. Hy sê hy is bewus daarvan dat daar sekere buitelandse mynregte-eienaars is wat geen plaaslike aandeelhouding het nie en meen dit moet weggedoen word en ‘n bepaling moet in die wetgewing aangebring word dat dit ‘n voorwaarde is. Die voorgestelde wetsontwerp, wat onder bespreking op Swakopmund is, maak voorsiening vir Namibiërs om eienaarskap van 5 persent, minimum,  in mynmaatskappye te hê. Dit spruit uit groeiende openbare kommer dat die land nie billik by sy minerale hulpbronne baat vind nie, omdat die meeste mynmaatskappye sonder plaaslike deelname besit word.