Weduwee dagvaar 5 van Otji vir man se dood

Die 5 mans wat daarvan aangekla word dat hulle die Zimbabwiese burger Hlaisanani Zhou verlede jaar in Otjiwarongo vermoor het, word deur sy weduwee Betserai Moyo vir 1,7 miljoen Namibiese doller in skadevergoeding gedagvaar. Jandre Jansen van Vuuren, 23, Jonathan Myburgh, 22, Roberto Katjinunene, 24, Kefas Kuutondokua, 26 en Hendrick Simupureni, 20 se kriminele saak duur ook steeds voort. Volgens die Staat het die 5 Zhou, ‘n informele handelaar doodgeslaan. Zhou het na bewering ‘n bottel houtlym by ‘n winkel gesteel. Al die verdagtes behalwe Katjinunene is sekuriteitswagte by Grid Hawk wat na berig word aan Myburgh behoort. Katjinunene is werksaam by die winkel waar Zhou na bewering die diefstal gepleeg het. Zhou is bewusteloos gevind by ‘n motorhandelaar op die dorp. Hy is dood op aankoms by die hospitaal. ‘n Polisie klopjag is ook uitgevoer nadat Jansen van Vuuren en Myburgh gevlug het. Die siviele saak sal op 18 Mei voor Regter Eileen Rakow vir ‘n saak beplanning konferensie voorkom.