Wag doodgeskiet in vreemde voorval by Cheetah Cement

Cheetah Cement net buite Otjiwarongo is weer in die nuus. ‘n 23-jarige veiligheidswag is dood na hy Vrydagaand toe sy skof tot ‘n einde gekom het, in die maag geskiet is. Hy is op pad Windhoek toe in die ambulans oorlede. Volgens die woordvoerder van die Otjozondjupa-polisie, inspekteur Maureen Mbeha, is die polisie eers ongeveer drie ure na die voorval in kennis gestel en dus, het nie op ‘n vars toneel afgekom om ondersoek in te stel nie. Sy sê die oorledene is glo omstreeks ses-uur, toe hy skof oorhandig het, binne die dienskamer by die hoofhek van die sementfabriek geskiet. Met geen ander inligting nie het die polisie geen ander keuse gehad as om die 31-jarige kollega as die verdagte in die saak op aanklag van moord in hegtenis te neem nie. Hy sal na verwagting Maandag in die Otjiwarongo-landdroshof verskyn. Polisie-ondersoeke duur voort. Die oorledene moet nog geïdentifiseer word.