Vismaatskappy skenk aan brand-slagoffers

Die Swakopmund DRC Women Empowerment Fishing-maatskappy het voedsel en toiletware ter waarde van 10 000 Namibiese dollar aan die slagoffers van die naweek se brand by die DRC-informele nedersetting geskenk. Die brand het ontstaan na ‘n agt-jarige seun met vuurhoutjies naby ‘n gasbottel gespeel het. ‘n Totaal van 35 wonings is in puin gelê en 16 families is dakloos gelaat. Owerhede in Swakopmund huisves hulle op die oomblik by die Mondesa sportgronde. Namibië-brouerye het ‘n tent geskenk vir die mense om in te bly en voorsien water. Boumateriaal word op die oomblik bymekaar gemaak deur die munisipaliteit om die families by te staan.