Vermeende wildstroper in Bwabwata gewond

Die Namibiese omgewingsminister, Pohamba Shifeta het vandag tydens ‘n mediakonferensie in die hoofstad gesê nog ‘n vermeende stroper is in die Mahango-gebied in die Bwabwata Nasionale gewond en in hegtenis geneem. Parkpersoneel wat op patrollie was, het ‘n hinderlaag gelê nadat hulle ‘n vars karkas van ‘n kameelperd in ‘n draadstrik en biltong wat hang, ontdek het. Twee verdagtes is genader voordat hulle van die toneel gevlug het toe hulle besef het dat hulle in ‘n lokval gelei word. Waarskuwingskote is afgevuur vir die verdagtes om te stop, maar tevergeefs. In die proses is een van die verdagtes in die been geskiet en aangekeer, terwyl die ander verdagte daarin geslaag het om na Botswana te vlug. Die beseerde verdagte is geïdentifiseer as ‘n 40-jarige man van Botswana en hy ontvang mediese hulp by die Rundu-staatshospitaal.