Vermeende skieter in gay-nagklub het glo voorheen bomdreigement gemaak

Die naam is bekend gemaak van die man wat in hegtenis geneem is ná die skietery in ‘n gay-nagklub in Colorado Springs in die Amerikaanse deelstaat Colorado. Vyf mense is in die skietvoorval dood en 25 is beseer. Die polisie het hom as die 22-jarige Anderson Lee Aldrich geïdentifiseer. ‘n Woordvoerder van die stad Colorado Springs sê ‘n persoon met dieselfde naam en geboortedatum het verlede jaar ‘n bomdreigement gemaak. Aldrich het op klante in Club Q losgebrand waarna klubgangers daarin kon slaag om hom te oorrompel. Hy is met beserings en onder polisietoesig in ‘n hospitaal behandel vir beserings wat hy tydens die konfrontasie opgedoen het.