Trevor Noah wen Nederlandse prys

Die Suid-Afrikaanse komediant en voormalige aanbieder van The Daily Show, Trevor Noah, het die gesogte Nederlandse Erasmus-prys gewen. Noah is die eerste komediant wat met die eerbewys bekroon is sedert Charlie Chaplin in 1965. Die Praemium Erasmianum-stigting sê die 39-jarige het die prys ontvang vir sy bydrae tot die tema In Praise of Folly, vernoem na Erasmus se bekende boek, gevul met humor, sosiale kritiek en politieke satire. Die stigting sê Noah was die perfekte ontvanger aangesien sy skerpsinnige, spottende dog inklusiewe politieke komedie die Erasmian-gees handhaaf.