Tekorte aan Brusellose-entstof

Die Namibiese Landbou-unie sê die S19-Brusellose-entstof is tans nie te koop in die land nie en handelaars weet nie wanneer dit weer beskikbaar gaan wees nie. Dit is dus belangrik dat lewendehawe-eienaars hulself net weer vergewis van die wetgewing rondom die verpligte inenting van verse. Volgens Dieregesondheidsregulasies moet eienaars van beeste in Namibië alle verse met S19-entstof inent tussen die ouderdom van drie en agt maande. Indien die verse ouer as agt maande is, kan RB51-entstof gebruik word. Die RB51-entstof kan op enige ouderdom aan nie-dragtige verse en koeie toegedien word, aangesien dit nie positiewe bloedtoetsresultate sal veroorsaak nie. Indien S19-Brusellose-entstof dus nie beskikbaar is nie, kan RB51 gebruik word in die plek daarvan.