Swakop begin water afsny oor skuld

Die munisipaliteit van Swakopmund sal ook, nes talle ander plaaslike owerhede in die land, begin om watertoevoer af te sny aan huishoudings en besighede met uitstaande skuld. Die raad sê hy word meer as 130 miljoen dollar geskuld, op van 100 miljoen wat in Oktober verlede jaar aangeteken is en dat daar ‘n beroep gedoen is op inwoners om vanaf November tot einde Maart vanjaar reëlings te tref om die skuld af te betaal. ‘n Korting van 10 persent op rekenings ouer as 90 dae is ook aangebied maar net 485 kliënte het van die aanbod gebruik gemaak. Die munisipaliteit sê 17 miljoen dollar van die totale uitstaande bedrag word deur regeringskantore geskuld.