Swaarste reënval in eeu in Canterbury

‘n Noodtoestand is in Canterbury op Nieu-Seeland se Suid-eiland afgekondig na wat beskryf word as die swaarste reënval in honderd jaar. Honderde huise moes ontruim word en helikopters van die Nieu-Seelandse weermag is ingeroep om gestrande inwoners te red. Enklele brûe is weggespoel en talle paaie is onbegaanbaar. Die burgemeester van Ashburton naby Christchurch het op Facebook gesê die plaaslike rivier vloei teen 1 400 kubieke meter per sekonde in plaas van die gewone tien kubieke meter per sekonde.