Stropers skiet & slag stoetbul, dragtige koei en ‘n kalf

Plaaslike media berig dat ‘n boer van Okahandja laat Donderdagmiddag groot verliese gely het met stropers wat ‘n Brahman stoetbul, ‘n dragtige koei en ‘n kalf geskiet en geslag het. Die boer, wie se plaas 15 kilometer noord van Okahandja op die B1 is, sê dit is die eerste keer dat sy diere deur stropers geskiet word. Die stropers het die diere in die kop geskiet en het vermoedelik in die rigting van Windhoek gereis. Die diere se velle is later by ‘n brug tussen Okahandja en Windhoek gevind en dit wil voorkom asof die stropers deur die padblokkade gery het. Die boer sê die verlies kan tussen 160 000 en 200 000 dollar wees en voeg by dat hy 250 000 dollar se skade reeds die jaar gely het met sonkrag- en waterpompe wat op sy grond gesteel is. Veediefstal het skerp toegeneem die jaar en sedert 2018 is meer as 3 000 gevalle in die land bevestig.