Só lyk die besonderhede oor Covid-gevalle

‘n Totaal van 865 nuwe Covid-gevalle uit 2 795 toetse is deur die gesondheidsministerie bevestig. Dit verteenwoordig ‘n positiewe koers van 30,9 persent. Volgens die ministerie is daar ook 56 herinfeksies. Erongo loop voor met 168 gevalle en Khomas is tweede met 138. Onder die groep is 76 leerders, 12 onderwysers, 14 studente en 32 gesondheidswerkers. Van die nuwe gevalle is 19 met een dosis ingeënt, 105 is ten volle gespuit en sewe het ‘n versterkdosis ontvang. ‘n Totaal van 887 pasiënte het herstel met aktiewe gevalle op 14 925. Hospitaliserings het met 11 toegeneem en is tans op 323 met 35 – tien meer as gister – in hoësorg. Van die hospitaal-gevalle is 32 ten volle gespuit met agt wat een dosis ontvang het en van die pasiënte in hoësorg, is een met een dosis en drie met twee dosisse. Twaalf sterftes, almal oningeënt, is bevestig.