Ses Nampol-lede vas vir wapendiefstal

Die smokkel van wapens na Angola bly in die nuus. Die Namibiese minister van binnelandse sake Albert Kawana het onlangs bevestig dat wapens wat eksklusief vir die polisie, weermag en intelligensiediens bedoel is, oorgrens gesmokkel word. Volgens hom is daar kommer dat die wapens moontlik tydens die buurland se verkiesing wat in Augustus vanjaar plaasvind, gebruik sal word. Inspekteur Kamina Alfonso is die sesde beampte wat in hegtenis geneem is vir die smokkel van wapens. Verlede jaar is vyf lede van die mag gearresteer vir die diefstal van 178 wapens met ‘n beraamde waarde van 2,5 miljoen Namibiese dollar. Volgens berigte was daar verskeie ploftoestelle en AK-47’s onder die gesteelde goedere. Van die wapens was blykbaar reeds verkoop toe die groep gevang is.