SA-onderwys wil 287 000 jongmense aanstel

Die Suid-Afrikaanse basiese onderwysdepartement se werwingsproses as deel van die tweede fase van sy indiensnemings-inisiatief begin vandag en duur tot Sondag. Die woordvoerder van die departement, Terence Khala, sê die departement wil met dié inisiatief aan 287 000 werklose jongmense werk- en opleidingsgeleenthede in die onderwyssektor bied. Hy sê jongmense tussen 18 en 35 jaar oud wat tans nie opleiding of enige vorm van staatstoelae ontvang nie, sowel as vroue en jongmense met gestremdhede kan aansoek doen.