Rusland sal in ’24 ruimtestasie verlaat

Rusland beplan om die Internasionale Ruimtestasie oor twee jaar te verlaat. Yuri Borisov, wat onlangs as hoof van die staatsbeheerde ruimtekorporasie Roscosmos aangestel is, het die aankondiging gedoen. Hy sê Rusland beoog om te fokus op die bou van sy eie wentelbaan-buitepos. Internasionale media berig Borisov se voorganger, Dmitry Rogozin, het in April gewaarsku Rusland sal sy samewerking staak ná Westerse sanksies oor die inval in Oekraïne. Nasa en Roscosmos het hierdie maand ooreengekom om voort te gaan om mekaar se vuurpyle te gebruik om ruimtevaarders na en van die Internasionale Ruimtestasie te vervoer.