Redforce sê Gobabis skuld hom amper N$5m

Redforce Debt Management dagvaar die munisipaliteit van Gobabis in twee eise ter waarde van net meer as 4,8 miljoen Namibiese dollar en 810 000 dollar. Die maatskappy sê hy word die geld geskuld in kommissie vir skuld wat hy vir die plaaslike owerheid ingevorder het. Hy sê hy het ‘n kontrak met die munisipaliteit onderteken om sy agterstallige skuld in te vorder en dat die kontrak geldig was vanaf 1 April 2018 tot 2 April 2021. Die bepalings was dat Redforce skuld ouer as 90 dae sou invorder maar, die maatskappy sê in sy stukke dit is mondelings aangepas na skuld 60 dae en ouer. Die munisipaliteit het volgens Redforce vanaf Januarie 2020 nie sy debiteure oorhandig nie en Redforce kon nie sy pligte ingevolge die ooreenkoms nakom nie. Die tweede eis van 810 000 dollar is vir skadevergoeding omdat die munisipaliteit blykbaar geen ondersteuning gebied het vir ‘n data-invorderingsprogram, waarop ooreengekom is, nie. Die saak word verdedig en daar word verwag dat regter Eileen Rakow die partye vir bemiddeling verwys.