R. Kelly dagvaar gevangenis vir US$100m

R. Kelly het die Brooklyn-gevangenis waar hy aangehou word gedagvaar omdat hy verkeerdelik op selfmoordwag geplaas is. Dit kom nadat hy die week 30 jaar tronkstraf ontvang het. In ‘n klag wat by die federale hof in Brooklyn ingedien is, het die 55-jarige sanger gesê amptenare by die Metropolitan Detention Centre het die opdrag gegee omdat hy ‘n “hoëprofiel” gevangene is. Kelly sê die “strawwe toestande” wat hy in die gesig staar, het gelei tot “ernstige geestelike nood” en kom neer op ‘n wrede en ongewone straf wat die Amerikaanse Grondwet se agtste wysiging oortree het. Hy eis 100 miljoen Amerikaanse dollar. Kelly is in September skuldig bevind aan verskeie klagtes van rampokkery en seksmisdade.