Puttoilette uitwis terwyl 43% Namibiërs geen toilet het nie?
Die voorlopige uitslae van die kartering toon dat President Hage Geingob se teiken om teen 2020 van puttoilette ontslae te raak nog verder misluk het omdat amper 43 persent van Namibiese huishoudings geen toegang tot ‘n toilet van enige aard het nie. ‘n Totaal van 53 persent van huishoudings gebruik hout as energiebron vir voedselvoorbereiding terwyl 45 persent elektrisiteit gebruik vir beligting. Informele wonings beloop 29 persent terwyl bakstene en klippe 37 persent van wonings uitmaak. Net meer as 52 persent van Namibiërs woon in landelike gebiede met 47,5 persent wat in stedelike gebiede woon. Die langverwagte sensus sal volgende jaar plaasvind nadat die finansminister Ipumbu Shiimi fondse daarvoor aangekondig het in sy middeltermyn begroting.