Premier vas vir dwelmhandel, geldwassery

Die premier van die Britse Maagde-eilande, Andrew Fahie, is in Miami in hegtenis geneem op klagte van dwelmhandel en geldwassery. Luidens die klagte het Fahie ingestem om dwelmbesendings te beskerm in ruil vir 12 persent van die wins. Die direkteur van hawens in die Britse Maagde-eilande, Oleanvine Pickering Maynard, en haar seun is ook in hegtenis geneem. Die drie word aangekla van sameswering om meer as vyf-kilogram kokaïen in die VSA in te smokkel, asook sameswering tot geldwassery.