Pedofiel-koshuisvader wil appelleer teen vonnis van 68 jaar

Die voormalige koshuisvader van die Karundu-laerskool op Otjiwarongo, Mervin Nguyapeua, wat in Maart vanjaar 68 jaar tronkstraf opgelê is nadat hy skuldig bevind is op 32 klagte van die verkragting van tien minderjarige seuns wat in die koshuis gebly het, wil nou appelleer teen sy vonnis. Daar is tydens sy verhoor bevind dat die verkragtings vooraf beplan was. Hy het tussen 2013 en 2016 verskeie seuns in die koshuis verkrag en seksueel misbruik. Nege van die seuns was jonger as 16 jaar; die jongste was 13. Videomateriaal, wat hy opgeneem het, het deel gevorm van die bewysstukke teen hom. Sy aansoek vir verlof om appèl sal vanoggend voor regter Kobus Miller voorkom. Hy maak gebruik van regshulp.