Pecker erken hy het stories onderdruk om Trump te help

Die voormalige National Enquirer-uitgewer David Pecker het Vrydag tydens Donald Trump se strafregtelike verhoor getuig dat hy ‘n storie oor ‘n beweerde verhouding onderdruk het, om Trump se 2016-presidensiële bod te help. Hy het dit gedoen al sou dit die verkope van sy poniekoerant ‘n hupstoot gegee het. Die voormalige Playboy-model Karen McDougal het beweer dat sy ‘n verhouding met Trump in 2006 en 2007 gehad het. Pecker sê dat hy verkies het om nie die storie te dra nie nadat hy McDougal daarvoor betaal het, want dit sou Trump se kanse geknou het om die verkiesing oor Hillary Clinton te wen. Hy het “ja” geantwoord op ‘n vraag van aanklaer Joshua Steinglass dat hy die storie doodgemaak omdat dit Trump gehelp het.