Oppenheimer se Nolan, Thomas word ridder en dame

Die rolprentregisseur Christopher Nolan en sy vrou, die rolprentvervaardiger Emma Thomas, gaan onderskeidelik ‘n ridder- en dameskap ontvang. Die Britse regering sê die twee word vereer vir hul dienste aan die film-industrie. Nolan het vroeër vandeesmaand sy eerste Oscar vir beste regisseur gewen vir Oppenheimer, sy film oor die vader van die atoombom. Dié film, wat Thomas vervaardig het, het altesaam sewe Oscars ingepalm. Afgesien van Oppenheimer, het Thomas ook aan ‘n reeks ander Nolan-films gewerk, soos Dunkirk, The Dark Knight, en The Prestige.