Openbare konsultasie op koperprojek by twee Ongombo-plase

‘n Openbare konsultasie oor die sogenaamde Ongombo-koperprojek net noordoos van die hoofstad, word môreaand by die Namibia Scientific Society se kantore deur die Environmental Compliance Consultancy gehou. Die maatskappy moet ‘n omgewing impakstudie doen vir die eksklusiewe prospekteer lisensie 5772 wat deur die Shali-groep gehou word. Volgens wat berig word besit Wilhelm Shali, wat internasionaal  beskryf is as ‘n Namibiese miljardêr, 15 persent van die koperprojek en African Pioneer Plc, ‘n maatskappy wat in Londen genoteer is, 85 persent. Die nou omstrede en bankrot plaas Ongombo Wes, was die eerste onteiende plaas in die land en is in 2005 aan grondloses gegee. Die plaas, waar daar niks aangaan nie, vorm deel van die lisensie. Daar was in 2008 ‘n eis gemaak deur ‘n Damara-gemeenskap op Ongombo Oos, wat ook deel van die lisensie vorm, met die gemeenskap wat ‘n geruime tyd op die pad by die plaas uitgekamp het. Die grond was daardie tyd in besit van ‘n Italianer en tog het die regering nie op die eis gereageer nie. Dit was ook daardie tyd reeds bekend dat beide die twee plase deel van die sogenaamde kopergordel vorm.