Olifante vreet bestaansboere se landerye op

Plaaslike berigte lui dat mens-olifant konflik toeneem in die Zambezi-streek. Landerye is by Wuparo, Balyerwa, Dzoti en Bamunu in die Judea Lyabboloma, Linyanti en Sibbinda-kiesafdelings vernietig. Inwoners meen niks werk om die diere te keer nie. Voorheen het lawaai, soos om op leë dromme te slaan, sowel as vuur gewerk maar, die olifante steur hulle nie meer daaraan nie. Daar is ook kritiek teenoor die omgewingsministerie uitgespreek omdat hulle nie vinnig genoeg reageer nie, indien hulle reageer. Meeste van die inwoners is bestaansboere en sonder hul landerye, kan hulle nie kos op die tafel sit nie. Namibië het ongeveer 24 000 olifante met die bevolking wat sedert 1995 met meer as 5 persent jaarliks toegeneem het. Konflik in die noordooste en noordweste van die land laat boere met hul hande in hul hare.