Olifant-konflik: Komitees aangestel

Die Namibiese omgewingsministerie het bestuurskomiteelede vir die Khaudum-Suid en die Kamanjab-gebiede aangestel. Dit volg op besprekings van die Nasionale Olifantbewaring- en Bestuursplan in 2021, in ’n poging om mens-olifant konflik te verminder en te bestuur. Die nuwe plan maak voorsiening vir die deelname van belanghebbendes in die bestuur van olifante wat in hul onderskeie gebiede voorkom. Die nuut aangestelde komitees sal nou saamwerk met die ministerie en ander entiteite om die konflik in hul onderskeie gebiede te bestuur. Die ministerie sal hulpbronne beskikbaar stel om die vergaderings van hierdie komitees te ondersteun. Die fokuspunte is die noordooste en noordweste van die land waar konflik ‘n brandpunt geword het.