NDF, Botswana gereed vir weermagoefening in Omaheke

Die Namibiese weermag-hoof lugmaarskalk Martin Pinehas sê hulle is gereed vir die komende gesamentlike vredes-ondersteuningsoperasie-oefening met die kodenaam Hanganee II saam met hul Botswana-eweknie in die Omaheke-streek. Pinehas het inspeksie gedoen om die gereedheid van die deelnemende troepe en die nodige toerusting vir die oefening te bepaal, wat van 15 tot 30 Junie in die streek sal plaasvind. Luitenant-kolonel Monika Hamukoto is die eerste vrou wat ‘n bataljon in die gesamentlike veld-oefening tussen Namibië en Botswana sal lei. Die weermaghoof het die gebiede besoek waar die troepe ontplooi gaan word, insluitend drie skole wat tans opknapping ondergaan as deel van die uitreik-programme. Die opknapping van skole, wat tot dusver meer as een miljoen Namibiese dollar gekos het, is by die laerskole van Mphe-Thuto, Drimiopsis en Nossob gedoen.