Nampol: Ingryping nodig met hoë selfmoordsyfer

Die Namibiese polisie sê die groeiende koers van selfmoord-gevalle in die land dui daarop dat dringende ingryping nodig is. Volgens Nampol is ses selfmoord-gevalle die afgelope Paasnaweek landwyd aangeteken. Nog twee selfmoord-voorvalle van onderskeidelik ‘n 38-jarige vrou in Windhoek, asook ‘n vermeende dubbele moordenaar in die Noorde, het dié week plaasgevind. Nampol se bevelvoerder in die Oshikoto-streek kommissaris Teopoline Kalompo-Nashikaku het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê mense moet oor hul probleme praat. Sy sê die polisie is nie net daar om arrestasies uit te voer nie, maar ook mense te help.