Namibiese jagters vrees vir invoerverbod van jagtrofeë in VK

Namibiese professionele jagters het hul kommer uitgespreek oor Britse parlementslede in die laerhuis wat die hoogs betwiste wetsontwerp oor die invoer van jagtrofeë na Brittanje, goedgekeur het. Die wetsontwerp is nou na die Britse hoërhuis vir goedkeuring verwys. Maar voetsoolvlak-bewaringsgroepe in verskeie Suider-Afrikaanse lande veroordeel die Wetsontwerp op Jagtrofeë se invoerverbod as “nog ‘n manier om Afrika te her-koloniseer” wat landelike lewensbestaan sal ondermyn en wildlewe sal bedreig. Die hoë kommissarisse van Namibië, Suid-Afrika, Zambië en Botswana, as deel van die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied, Kaza, het ‘n gesamentlike verklaring uitgereik wat volhoubare jag in Afrika ondersteun.