Nam se kinders kyk te diep in die bottel

Die Namibiese ministerie van kinderwelsyn sê ouers wat kinders stuur om alkohol te koop kan vervolg word en aangekla word vir kindermishandeling. Volgens die woordvoerder van die ministerie, Lucas Haufiku, is die bepaling vervat in die aanpassings wat aan die wetgewing gemaak is. Dit is ook onwettig vir enige persoon om alkohol te verkoop aan iemand jonger as 18. Haufiku sê met die komende feesseisoen sal die toepassing van die wetgewing verskerp word. ‘n Onlangse verslag deur die regshulpsentrum toon dat net minder as 54 persent van jongmense tussen die ouderdom van 13 en 30 misbruik alkohol terwyl die gesondheidsministerie bevind het dat amper 30 persent van kinders tussen die ouderdom van 13 en 16, gereeld drank gebruik.