Ministerie van openbare ondernemings is ontbind

Die Namibiese ministerie van openbare ondernemings is amptelik ontbind en sal voortaan as ‘n departement in die finansministerie bestaan. Die ministerie sal nou bekend staan as die ministerie van finansies en openbare ondernemings. Die minister, Ipumbu Shiimi, en sy adjunk, Maureen Hinda-Mbuende, bly in beheer. Die stap kom na die kabinet verlede jaar die stap goedgekeur het na aanleiding van die aanbeveling van die hoëvlakpaneel oor die Namibiese ekonomie wat deur President Hage Geingob aangestel is. Die ministerie is in 2015 gestig en het toesig gehou oor die funksies en verantwoordelikhede van 98 openbare ondernemings.