Meer as 20 mense nog vermis ná brand in casino-hotel in Kambodja

Reddingspanne in Kambodja het agt liggame uit die verwoeste vertrekke van ‘n casino-hotel gevind waar minstens 27 mense in ʼn brand dood is. Meer as 20 mense word steeds vermis. Ongeveer 400 werknemers en gaste was glo in die kompleks naby die grens met Thailand toe die brand uitgebreek en die kompleks verwoes het. Dit is onduidelik wat die brand veroorsaak het, maar dit was moontlik weens ‘n elektriese kortsluiting. ’n Regeringskomitee is saamgestel om die oorsaak te ondersoek. Eerste minister Hun Sen het sy medelye uitgespreek.