Media-vakbond eis ondersoek na joernalis by protes raak geskiet is

Die Namibiese media-vakbond Nampu sê in ‘n verklaring hy veroordeel die gebruik van geweld teenoor lede van die media ten sterkste. Die vakbond het gereageer op die besering wat Elifas Bonifatius, ‘n joernalis by die NBC, Vrydagoggend by die chaos by China Town in die hoofstad opgedoen het. Die polisie se spesiale reserwemag is ontplooi om ‘n protes deur die Namibia Economic Freedom Fighters te beheer. Daar was talle video’s op sosiale media van joernaliste wat skuiling gesoek het toe die polisie met rubberkoeëls op die groep protesgangers losgebars het. Bonifatius is vermoedelik deur een van die koeëls getref. Die sekretaris-generaal van die vakbond, Sakeus Iikela, sê joernaliste het ‘n reg op beskerming wanneer hulle hul werk doen. Daar is ook ‘n beroep op die polisiehoof, luitenant-generaal Sebastian Ndeitunga gedoen om ondersoek in te stel na die voorval. Bonifatius het vroeër aangedui hy sal ‘n siviele eis teen die mag instel.