Liverpool mik na viervoudige sukses

Liverpool is steeds op koers om hierdie seisoen viervoudige sukses te behaal nadat hulle Chelsea gisteraand met ‘n strafdoel in die FA-bekerwedstryd op Wembley in Engeland verslaan het. Die Reds probeer om die eerste Britse span te word om al vier belangrike bekers in een seisoen te wen. Hulle het Chelsea in Februarie gewen en die Carabao-beker ingepalm. Hulle het nou ook die eindronde van die Kampioeneliga gehaal waar hulle volgende Saterdag teen Real Madrid sal speel. Die Reds se kanse om die Premierliga te wen, is egter aan die taan.