Man met varkhart sterf na 2 maande

Die eerste persoon ter wêreld wat ‘n oorplanting van ‘n geneties aangepaste varkhart ontvang het, is dood. Die Amerikaner David Bennett, 57, het vir twee maande oorleef na die operasie. Hy het terminale hartsiekte gehad en het ten tye van die oorplanting gesê dat hy weet daar is risiko’s aan verbonde maar daarsonder sou hy in elk geval sterf. Die Universiteit van Maryland se mediese sentrum is vrywaring gebied om die operasie, die eerste van sy soort, uit te voer. Bennett se toestand was van so aard dat hy nie gekwalifiseer het vir ‘n menslike hart nie. Hy was reeds ses weke lank bedlêend voor die operasie, gekoppel aan ‘n masjien wat hom aan die lewe gehou het.