Maak gereed vir verdere stygings in brandstofpryse

‘n Nare verrassing wag op mense wat tans dink brandstofpryse is belaglik hoog ná die jongste verhoging. Die prys van ru-olie het vanoggend deur die vlak van 110 dollar per vat gebreek en die Namibiese dollar het verswak tot sowat 15 Namibiese dollar 50 sent teenoor die Amerikaanse dollar. Beide gaan ‘n groot uitwerking hê op volgende maand se brandstofpryse. President Vladimir Putin se inval in Oekraïne het veroorsaak dat internasionale magte uit weerwraak streng en ingrypende sanksies teen Moskou ingestel het, wat die bekommernis aanwakker dat uitvoere vanaf Rusland afgesny sal word. Rusland is die wêreld se derde grootste olieprodusent.