Ma en kind dood by nog ‘n reuse-brand by Twaloloka

‘n Ma en haar kind is dood in ‘n brand wat gisternag in die ou Twaloloka informele nedersetting in Kuisebmond op Walvisbaai plaasgevind het. Dit is deur inspekteur Ileni Shapumba van die Erongo-polisie bevestig. Hy sê die ondersoekspan is steeds besig maar ‘n aansienlike hoeveelheid van die wonings is verwoes. ‘n Lid van die publiek het ook ernstige beserings opgedoen toe hy geval het terwyl hy gehelp het om die brand te blus. Net meer as twee jaar gelede, op 26 Julie, 2020, was daar ook ‘n verwoestende brand by die nedersetting en honderde is haweloos gelaat. Een baba is in daardie brand dood.