Lichtenstrasser word Maandag gevonnis

Ernst Lichtenstrasser, die voormalige werknemer van die Namibiese Instituut vir Mynbou en Tegnologie wat skuldig bevind is aan die moord op die instituut se twee topbestuurders, sal Maandag in die Windhoekse hooggeregshof gevonnis word. Regter Christie Liebenberg het vonnisoplegging tot Maandag voorbehou, ná ‘n voorvonnisverhoor Donderdag. Regter Liebenberg het Lichtenstrasser in November verlede jaar op agt aanklagte skuldig bevind. Dié aanklagte hou verband met die moord op NIMT se uitvoerende direkteur, Eckhart Mueller, en sy adjunk, Heimo Hellwig, wat op 15 April 2019 koelbloedig by die instituut se hoofkantoor in Arandis doodgeskiet is.