Kunene-goewerneur soek meer, beter polisiestasies

Die goewerneur van die Kunene-streek, Marius Sheya, vra vir gesamentlike pogings om polisiedienste te moderniseer en te desentraliseer, om die publiek beter te dien en burokrasie te verminder. Sheya het gepraat tydens ‘n belanghebbendes vergadering in Opuwo met die inspekteur-generaal van die Namibiese polisiemag, luitenant-generaal Joseph Shikongo. Sheya sê dat modernisering en desentralisering van verskillende dienste, soos motorklarings en die uitreiking van wapenlisensies, by alle polisiestasies moet gedoen kan word. Rekenaars met internet-toegang moet ook verkry word, om die polisie in staat te stel om die mense beter te bedien. Sheya het versoek dat permanente padblokkades in die streek se brandpunte vir veediefstal en stropery gebou word. Hy versoek ook bykomende polisiestasies in moeilik bereikbare gebiede.