Kasakstan: Russe help orde herstel

Die president van Kasakstan, Kassym-Jomart Tokayev, sê orde in die land is grootliks herstel ná die ongekende geweld die afgelope paar dae wat eindelik deur troepe van ‘n militêre alliansie onder leiding van Rusland in bedwang gebring is. Die olieryke Kasakstan is lank bestempel as een van die mees stabiele voormalige Sowjet-republieke in Sentraal-Asië, maar betogings oor ‘n skerp styging in brandstofpryse het tot algemene onrus gelei. Volgens nuusagentskappe het betogers Woensdag regeringsgeboue in die grootste stad, Almaty, bestorm, wat tot gevegte met die polisie en die weermag gelei het.