Jones sê hy bly toegewyd aan die Wallabies

Australië se hoofafrigter, Eddie Jones het ondanks gerugte oor sy toekoms ná Australië se sukkelende vertoning in die wêreldbekertoernooi in Frankryk gesê hy bly toegewyd aan die Wallabies. Australië kon vir die eerste keer in tien toernooie nié die kwarteindstryd van die rugbyskouspel haal nie. Die 63-jarige Jones het volgens berigte verlede maand ‘n onderhoud gehad vir die pos van hoofafrigter van Japan. Hy erken dat hy nie self oor sy toekoms kan besluit nie en dat dit deur ‘n naderende hersiening bepaal sal word, maar hy sê hy glo Rugby Australië staan nog vas agter hom.