John Lennon se verlore kitaar herontdek, word opgeveil

’n Voorheen verlore 12-snaar akoestiese kitaar wat aan wyle John Lennon behoort het, gaan in Mei op ’n veiling te koop wees. Die afslaers sê Lennon het die kitaar gespeel op die Beatles se 1965-album “Help!”. Dit sal na verwagting die geskatte prys van 600 000 Amerikaanse dollar tot 800 000 dollar oorskry. Die kitaar het op ‘n solder in Brittanje gelê en is tydens ‘n huisverhuising deur die huidige eienaars herontdek. Martin Nolan, uitvoerende direkteur en medestigter van Julien’s Auctions, het aan Reuters gesê die eienaars het op ‘n stadium geweet hulle het die instrument gehad, maar het gedink dit is verlore. Die kitaar word op 29 Mei by die Hard Rock Cafe in New York en op die afslaer se webwerf opgeveil.