Hooggeregshof kap Ya Nangoloh oor minagting van reëls, saak uitgegooi

Die appèlsaak wat die nou-omstrede menseregte-aktivis Phil Ya Nangoloh in die hooggeregshof gebring het, het misluk omdat hy nie die reëls van die hof nagekom het nie. ‘n Volbank regters, Naomi Shivute, Dave Smuts en Shafimana Uietele het vanoggend uitspraak gelewer. Ya Nangoloh het in Desember 2019 gepoog om die Olufuko-fees te verbied. Hy het die regering en 18 ander respondente gedagvaar. Hy het aangevoer dat die fees, wat jaarliks gehou word en jong Aawambo-meisies voorberei vir volwassenheid, losbandigheid en ander euwels aanmoedig. Die hoërhof het bevind dat niemand gedwing word om aan die fees deel te neem nie en dat niemand se regte daardeur geskend word nie. Ya Nangoloh se poging om te appelleer en nie die hof se reëls na te kom nie, gaan hom duur te staan kom. Die regters het ‘n kostebevel vir die eerste tot vierde respondente uitgereik wat die koste van die prokureur en advokaat insluit.