Hondjie grawe ou muntstukke ter waarde van N$120 000 uit

Die is tweede natuur vir honde om te grawe en hulle eienaars vind dit gewoonlik nie amusant nie. ‘n Engelse gesin het egter as’t ware op ‘n pot goud aan die einde van die reënboog afgekom. Adam Clark van Blackpool het die lagotto romagnolo-hondjie, Ollie, vir sy nege-jarige dogter Alicia gekoop. Die ras hou besonder baie van grawe en is baie lief vir truffels. Ollie het egter 15 goue muntstukke opgegrawe toe hulle in die veld gaan stap het. Die muntstukke dateer uit die 19de eeu en is omtrent 120 000 Namibiese dollar werd.