Hof sê Amupanda moet nuwe erwe-eis indien
‘n Volbank regters het vanoggend die Namibiese regering se appèl in die hooggeregshof, teen die aanvaarding van Job Amupanda se eis in die hoërhof, toegestaan. Hoërhofregter Orben Sibeya het die regering se aansoek dat Amupanda se eis van die hand gewys word, in die saak waar sy Affirmative Repositioning-beweging eis die regering 200 000 huise moet bou, ter syde gestel en daarom die appèl. Die regering, as respondent in die hoërhofsaak, het aangevoer die eis, wat staatmaak op ‘n mondelingse ooreenkoms met President Hage Geingob in 2015, geen gesag in die reg het nie omdat die ooreenkoms nie bindend is nie. Regters Sylvestor Mainga, Theo Frank en Shafimana Ueitele het vanoggend hul beslissing bekend gemaak en die beweging opdrag gegee om die regering se regskostes in verband met die appèl te betaal. Amupanda het 30 dae om ‘n nuwe eis in die hoërhof in te dien en indien nie binne die tydperk ingedien nie, het die regering tien dae om te vra dat die aansoek uitgegooi word.