Hewige reaksie van Christen-party op Ndeitunga se aanmerkings

Die Christian Democratic Voice-party het skerp gereageer op opmerkings deur inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, Sebastian Ndeitunga, nadat hy kerke blameer het vir die polisie se swak prestasie, veral in die noordelike streke. Nicodemus Shaama, adjunkpresident van die party, sê Ndeitunga se aanmerkings is vlak en hy bevraagteken die polisiehoof se motiewe. Ndeitunga het onlangs hoofinspekteur Christina Van-Dunem Da Fonsech Shikongo na die noordelike streke gestuur om kerke wat hy as “vals en duiwelbesete” bestempel het, uit te wis. Ndeitunga sê lede van die publiek, insluitend sommige polisiebeamptes, ly onder die invloed van die kerke. Shaama sê die party verstaan nie op grond waarvan die inspekteur-generaal die demone in kerke geïdentifiseer het nie, en of hy hulle by die naam kan noem en nie veralgemeen nie, aangesien nie alle kerke dieselfde is nie.