Gobabis spreek uitdagings aan – Theron

Nes talle ander dorpe regoor die land, het Gobabis ook uitdagings met verouderde infrastruktuur, swak dienslewering en ‘n tekort aan voldoende behuising. Die munisipaliteit sukkel met watervoorsiening as gevolg van ou asbespype wat bars en dan vervang word met PVC-pype wat op hul beurt weer ‘n bars in die volgende deel van die pyp veroorsaak. Burgemeester Elvire Theron het aan die media gesê die probleem word aangespreek en dat hul bewus is dat gereelde wateronderbrekings voorkom in sekere dele van die dorp. Sy voeg by die dorpsraad werk ook saam met die BuildTogether-program sowel as die Shackdweller’s Association om voldoende behuising te verskaf. Erwe word in groepe beskikbaar gestel en huise opgerig. Tot dusver is die vordering goed. Elf uit 15 huise is reeds voltooi en die volgende stel van 17 erwe word voorberei.