Getuies in Georgia se Trump-ondersoek het meineed gepleeg
‘n Spesiale groot jurie in Georgia wat ondersoek instel na oudpresident Donald Trump se pogings om die 2020-verkiesing om te keer, glo sommige getuies het meineed gepleeg. ‘n Regter het gedeeltes bekend gemaak van ‘n spesiale jurie se ondersoek van twee jaar na Trump en sy bondgenote se pogings om die verkiesingsuitslag in Georgia om te keer. Die jurie het eenparig bevind daar was geen grootskaalse bedrog nie. Die oudpresident is nooit gevra om te getuig nie. Die jurie het aanbeveel dat aanklaers klagtes van meineed indien teen getuies wat hulle vermoed gelieg het.